Nuuskommentaar: 19 Oktober 2021
Deur: Joost Strydom
Die Afrikanergemeenskap in Orania het pas sy eie, jaarlikse sensus vir die vyfde jaar in ‘n ry publiseer. Dié sensus dui op ‘n rekordpersentasie in bevolkingsgroei, groei in nuwe besighede, sterk groei in nuwe permanente werksgeleenthede, ‘n stewige styging in gemiddelde salaris en ‘n toename in sakevertroue.
Hierdie sensus wat met die hulp nasionale konsultasiefirmas, wat kundigheid en insig na die tafel bring, saamgestel word, sinkroniseer ook ten nouste met die Orania Ruimtelike Ontwikkelingsplan en sal binnekort aangevul word deur die Orania Stadsboumodel, wat ook deur kundiges saamgestel word.
Volgens die sensus, wat deur die Orania Dorpsraad se afdeling: Beplanning en Grondgebruik bekend gestel is, het Orania se bevolking met ‘n ongelooflike 16.5% toegeneem. Samelopend daarmee het huishoudings met 14.8% toegeneem wat stabiele gesinsvestiging weerspieël. Verdere bevolkingsgroei word ook aan die een kant gelok en aan die ander kant ondersteun deur Orania se primêre, sekondêre en tersiêre onderwys en opleidingsinstellings. Oor die afgelope vyfjaar het die aantal skoliere en studente in Orania elke jaar met ‘n gemiddeld van 18,1% toegeneem.
Hierdie bevolkingsgroei moet natuurlik deur ekonomiese aktiwiteit onderlê word. Reeds in 2016 is Orania se Ekonomiese Ontwikkelingsplan bekendgestel. Hierdie plan het beleggingsteikens gestel wat volhoubare groei moes help verseker, bottelnekke oopbreek, en Orania na die volgende fase van groei neem. Van dié plan is ɸ183 000 000 (Die Ora is in waarde gelyk aan die Rand) se teikens is ɸ180 700 000 gerealiseer.
Openbare kapitaalvorming het ook drasties gegroei. Orania Groeikrag, Orania Groeifonds, Orania eiendomsontwikkeling en ander behuisings- en ontwikkelings- en beleggingsentiteite was in 2020 miljoene Ora sterker as 2019. In totaal het kapitaalvorming in Orania jaarliks met 41,7% toegeneem! Die grootste bydraer hiertoe, en ‘n belangrike Orania instelling, is Orania se eie bank, Orania Spaar en Krediet, in die afgelope vyfjaar het OSK se kapitaalvorming van ɸ106 873 379 na ɸ244 807 611 toegeneem.
Steun vir die Orania-gedagte neem ook toe, met die Orania Beweging se ledetal (ondersteuners van Orania) wat met meer as 25% gegroei het in 2020.
Die bevolkings- en besigheidsgroei ( 27,7% groei in nuwe besighede ) is bewyse van persoonlike- en sakevertroue in die bestuur en ekonomie. Meer as 79% van besighede in Orania het hulle sakevertroue as “goed” of “uitstekend” beskryf. Nog redes vir groei kan gevind word in goeie munisipale dienste, veiligheid en hoë vlakke van vertroue in ‘n homogene omgewing.
Orania se sensussyfers vir die afgelope vyfjaar het elke jaar stabiele, sterk groei getoon. Die groei in 2020 het alles ten spyte van die Suid-Afrikaanse regering se hewige inperkingsmaatreëls gerealiseer.
Volgens Hanri Maritz, burgemeester van Orania, bly die Orania se doel om ‘n werkbare alternatief vir Afrikaners te skep. Die suksesse van die afgelope vyfjaar in ongelooflike bevolkingsgroei weerspieël daardie doelstelling. Die groei in 2020 egter is tenspyte van ‘n reeks nasionale uitdagings. Dit bevestig dat Afrikaners juis in hierdie omstandighede, Orania as ‘n werkbare en nodige alternatief sien.
Die volledige sensus sal binnekort op Orania se Facebookblad beskikbaar wees.
Stem vir die Aitsa’s