10 Junie 2022
Die minister van toerisme Lindiwe Sisulu sê die sluiting van die lugdiens Comair, is ‘n slag vir die toerismebedryf.
Die sakeredders van Comair het gister aangekondig dat die maatskappy se vlerke permanent geknip moet word nadat hulle nie daarin kon slaag om finansiering te bekom nie. Comair bedryf Kulula en British Airways in Suid-Afrika.
LEES OOK: BLITSBERIG: EINDE VAN DIE AANLOOPBAAN VIR COMAIR
Sisulu sê vier uit elke 10 vlugkaartjies wat verkoop word vir binnelandse vlugte, is aan boord Kulula of British Airways. Volgens haar sou nagenoeg 4-miljoen mense vanjaar nog van die lugdienste gebruik maak.
Intussen het FNB en Discovery Bank gesê dat hulle mense sal bystaan in ‘n poging om hul geld terug te kry indien hulle vliegkaartjies aan boord die twee lugdienste gekoop het.
FNB sê hul sal mense help wat deur dié bank kaartjies gekoop het. Mense wat kaartjies direk by Kulula of British Airways gekoop het kan vra dat die transaksie omgekeer word. Mense wat kaartjies deur middel van elektroniese oordrag gekoop het, sal vir die lugdienste direk moet kontak.