18 Junie 2021
Die nasionale tesourie het bekend gemaak dat net R36,5-miljard van die R230,7-miljard, wat deur verbruikers aan stadsrade verskuldig is, realisties gesproke invorderbaar is.
Dit verteenwoordig minder as 16%.
Dit het aan die lig gekom tydens die bekendstelling van die verslag oor inkomste en uitgawes van plaaslike regering vir die nege maande vanaf 1 Julie 2020 tot 31 Maart vanjaar.
Volgens dié verslag word 32% van dié skuld, oftewel R73,7-miljard afgeskryf.
Die meeste van die geld word deur huishoudings geskuld terwyl die regering – in verskillende vorme – R15,5-miljard verskuldig is.
Munisipaliteite in die Vrystaat word die meeste deur verbruikers geskuld, gevolg deur stadsrade in Mpumalanga en Gauteng.