13 Junie 2022
Die Hoërskool Barkley-Oos in die Oos-Kaap se skoolhoof, Samthini Patrick Duna moes om verskoning vra vir ’n plasing wat hy op sy Facebook-blad gemaak het wat “neerhalend en rassisties teenoor wit mense is.”
Hy moes ook dié plasing verwyder. Dit volg nadat AfriForum in ’n prokureursbrief aan Duna die verskoning vir en verwydering van die plasing geëis het.
Die plasing wat op 25 Mei 2022 op Duna se Facebook-blad gemaak is, lui as volg: “Some stupid white racists will never change and it doesn’t matter how educated they are. I wish we could have a shrewd and firm leader like Paul Kagame. Someone who would let these nuisances rot in jail or chase them back to Europe like he did to the Chinese.”
Volgens Natasha Venter, adviseur vir onderwysregte by AfriForum, is hierdie tipe uitlatings onaanvaarbaar en veral kommerwekkend komende van iemand in ’n gesagsposisie wat in beheer is van kinders se opvoeding.
“Hierdie plasing is gemaak ten aanskoue van enigiemand wat toegang tot Duna se Facebook-blad het – insluitend leerders by die skool. As skoolhoof is hy juis veronderstel om ’n voorbeeld te stel, maar hy het eerder gekies om rassehaat aan te blaas deur hierdie plasing te maak,” sê Venter.
Duna het ook in sy verskoning aangedui dat hy nie glo dat enigiemand op grond van hul ras toegesluit of na Europa toe verjaag moet word nie en dat Suid-Afrika aan almal wat daarin woon, behoort.
Die provinsiale onderwysdepartement in die Oos-Kaap het ook in die media aangedui dat hulle dissiplinêre stappe sal neem hangende ’n ondersoek na die plasing.