5 Mei 2022
Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) verwelkom die minister van gesondheid se aankondiging dat geen leerders op skool meer maskers hoef te dra nie.
Die hoof van ontwikkeling by die SOS, Melanie Buys sê die impak van maskers op onderrig is geweldig negatief. SOS eis daarom dat skole volledig as maskervrye omgewing verklaar word.
“Onderwysers kla al ʼn geruime tyd dat maskers leerders se natuurlike optrede beïnvloed. Spontane deelname en gesonde sosiale interaksie met personeel en klasmaats word onderdruk,” meen Buys.
Sy sê kinders reageer anders op ʼn onderwyser met ʼn masker op: oogkontak, waagmoed en vrymoedigheid om menings en emosies te deel is beslis minder.
Volgens Buys voer spraakterapeute aan dat daar die afgelope jaar ʼn toename in leerders is wat sukkel om klanke behoorlik te vorm en binnensmonds praat.
” ʼn Maskervrye skoolomgewing is ʼn belangrike stap om leerders se gesonde akademiese, fisiese en emosionele ontwikkeling te verseker,” sê Buys.