Laataand

Weeksdae
22:00 - 24:00

Luister nou

Volgende

Skole, kerke en koeksisters

Nuuskommentaar: 1 November 2022

Deur: James Kemp

Die afgelope week is `n ererol vir koeksisterbakkers bekendgestel. Die eerste ontvangers van die sertifikaat en koeksisterlapelwapen, wat met die toelating tot die ererol gepaard gegaan het, was lidmate van die AP Kerk se Pretoria-Oosgemeente. Hulle is vereer vir die besondere bydrae wat hulle met die bak van koeksisters tot die gemeente gelewer het. Die ererol word deur die organisasie Kaalvoet saamgestel. Die organisasie is in 2002 deur Lida Strydom gestig en `n jaar later het hulle, deur gemeenskapskonserte aan te bied, genoeg geld ingesamel om `n koeksistermonument op Orania op te rig. Kaalvoet is `n verwysing na die bekende woorde wat aan Susanna Smit toegedig word: “Ons stap liewer kaalvoet terug oor die Drakensberge as om onder die Britse vlag te staan.”

Terwyl dit vir baie mense dalk vreemd op die oor moet val om te hoor dat daar `n koeksistermonument en nou `n ererol vir koeksisterbakkers is, moet ons verstaan dat koeksisters `n simbool is vir iets baie groter as die soet lekkerny wat ons soms geniet. Een luisteraar skryf op Pretoria FM se facebookblad, waar `n berig oor die ererol verskyn het, dat daar in hulle kringe na `n koeksister as `n kerkboukrul verwys is weens al die kerke wat met die verkoop van koeksisters opgerig is.

Na die Anglo-Boereoorlog was die Afrikaner `n verarmde volk. Een wat na jare van oorlogvoering teen die magtige Britse ryk, moes terugkeer na verwaarloosde plase wat in baie gevalle deur die Verskroeide Aarde-beleid in puin gelê is. Dit was `n volk wat van vooraf moes begin, diep in die skuld en vol letsels van die oorlog wat met `n bittere vrede tot `n einde gekom het. `n Volk wie se geliefdes na doodskampe geneem is met wie hulle nooit weer sou herenig nie. `n Volk wat vir soveel jaar soewerein bestaan het en nou skielik `n kolonie van die Britse ryk was. Sonder eie instellings of besluitnemingsmag.

Van die belangrikste woorde wat in daardie tyd gespreek sou word is geuiter deur Vader JD Kestell toe hy gesê het: “`n Volk red homself”. En dit is presies wat die Afrikaner gedoen het. Met `n paar koppies meel, `n paar telepels bakpoeier, eiers, suiker en botter is kerke, skole en monumente opgerig. Die deeg wat geknie is het bakens geword wat vandag nog getuig van wat met die regte bestanddele in ywerige hande gemaak kan word.

Dié selfdoeningesteldheid het nie skielik verdwyn toe die Afrikaner meer welvarend geword het nie en vandag word meel, bakpoeier, eiers, suiker en botter steeds ingespan om selfdoenprojekte mee aan te pak. Jy sal gereeld hoor van skole wat ekstra klaskamers aanbou met opbrengste uit koeksisterverkope of dat `n kerkgebou nuwe dakteëls kry te danke aan die ywerige koeksisterbakkers wat weer hard gewerskaf het.

Die suksesresep van hierdie skole, kerke en ander instellings is eenvoudig: Meet die meel, bakpoeier, eiers, suiker en botter volgens behoefte af. Meng die bestandele bymekaar en voeg `n goeie dosis selfdoen by.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

ENOCH

Minister Godongwana lewer vir die 3de keer sy begrotingsrede

Untitled design (2)

Hoëgehalte Brandstof van DSL Fuels – Beter vir Enjins, Beter vir Jou Besigheid

GraUysfXsAAcdKU

Solidariteit doen ‘n beroep op Ramaphosa om stappe aan te kondig om verhouding met VSA te herstel

Geld-1

Verbruikersprysinflasie nou op 2,8%

IMG-20220418-WA0228

Addo-park maak geskiedenis met die verskuiwing van 42 olifante

Ander Nuus Artikels

Screenshot 2025-05-21 123804
Nuuskommentaar: Internasionale Museumdag (18 Mei) se oproep tot ons
GreTTOMXoAArt_c
“Apartheidsbelasting” van die hand gewys
Grekf-sXIAACXI5
Politieke partye, organisasies reageer op die derde begroting
ENOCH
Minister Godongwana lewer vir die 3de keer sy begrotingsrede
Untitled design (2)
Hoëgehalte Brandstof van DSL Fuels – Beter vir Enjins, Beter vir Jou Besigheid

Laataand

Weeksdae
22:00 - 24:00

Luister nou

Volgende