Nuuskommentaar: 12 Januarie 2022
Deur: Johnell van Vollenhoven
Dit is 12 Januarie 2022. Die skole in Gauteng en in die ander binnelandse provinsies het vandag vir leerlinge heropen. Almal is vol hoop dat die akademiese jaar vanjaar sonder enige onderbrekings sal verloop en dat kinders so ver moontlik weer normaal sal kan skoolgaan.
Die werklikheid is egter dat geen skooljaar sonder rukke en stote verloop nie en dat die grootste rukke en stote weinig te make het met akademie of leerlinge in funksionele skole. Die rukke en stote, en eintlik ontwrigting waarmee ons tans te kampe het, is die gevolg van die nasionale onderwysdepartement en die onderskeie provinsiale departemente wat doodeenvoudig nie die werk doen waarvoor hulle getaak is nie en wat kies om eerder agendas te dryf wat vir die ganse Suid-Afrika en sy kinders afbrekend is.
Talle ouers het reeds begin kapsie maak omdat hul kinders nie betyds geplaas is nie, of omdat hul kinders by skole waar hulle nie aansoek gedoen het nie geplaas is. Sommige kinders is selfs in ander skole as hul sibbe geplaas. Dan is daar ook skole wat met hande in die hare sit omdat daar nie genoeg klaskamers is om die kinders wat wel by hulle geplaas is, te kan akkommodeer nie.
Dit is asof daar ʼn moedswilligheid aan die kant van die departement is: Die departement verdedig sy ondoeltreffende plasingstelsel verbete met belaglike verskonings soos die verhuising van leerlinge of die groeiende bevolking. Of hy kondig aan hoeveel miljoene hy aan skole betaal het om nog klaskamers op te rig, maar nêrens word die probleem werklik getakel nie.
Dit is die departement se verantwoordelikheid om skole te bou. Hy moet bewus wees van verhuisingstendense en moet statistieke dophou om op hoogte te bly van die bevolkingsgroei sodat genoeg skole gebou kan word om daarvoor voorsiening te maak. Die bou van klaskamers nie die skool se verantwoordelikheid nie.
Die vraag is: Waarom wil die departement nie sy begroting vir die bou van skole aanwend nie? Waarom wil hy ondoeltreffende onderrig bevorder deur leerlinge in skole te stop waar daar nie vir hulle plek is nie of deur hulle te dwing om in ʼn taal skool te gaan wat hulle nie verstaan nie? Hoekom so kortsigtig? Dit strek net tot nadeel van ons land se kinders.
Nóg ʼn gevolg van die onderwysdepartement se magsug wat deur nuwe beleide en wetgewing afgedwing word, is die vervreemding van die gemeenskap. Met die oorskakeling van die voormalinge model C skole na openbare skole soos wat ons dit vandag ken, was die doel juis om skole aan die gemeenskap te gee. Opvoeding is nie net die taak van die regering nie – dit is die taak van ouers, familie, die kerk, die gemeenskap en ook die sakelui in daardie gemeenskap. Dit is veronderstel om ʼn spanpoging te wees waardeur nie net die akademie nie, maar ook die waardes en kultuur wat uniek aan daardie gemeenskap is, oorgedra kan word. Dieselfde handskoen pas nie alle hande nie.
Is dit juis waarvoor die regering bang is? Wil die regering teen sterk gemeenskappe, wat hom en sy slinkse onderduimsheid en afdwinging van ideologieë kan stuit, waak? Is die regering bang vir gemeenskappe wat die moed van hul oortuiging het om hom op sy foute te wys, wat nie bereid is om die departement slaafs na te volg nie en wat nie sy geknoei duld nie?
Heel waarskynlik. Dit is ʼn verligting dat daardie mag nie werklik by die regering lê nie. Dat gemeenskappe nog ʼn sê het en dat beheerliggame nog hul skole se pad kan bepaal. Dáár word geen verskuilde agenda gedryf nie. Dáár word waardes beskerm, dáár word akademie bevorder, dáár word op elke vlak ontwikkel en dáár word ʼn toekoms gebou.