20 Januarie 2022
Die vakbond, Solidariteit het vandag sy skok en medelye uitgespreek oor die eerste mynsterfte vir 2022 wat gister by Sibanye-Stilwater se Driefontein-myn plaasgevind het.
Solidariteit sê dít volg na dié myn se slegte mynsterfterekord van 2021 waartydens 18 van hulle werkers gesterf het. Die hoofsekretaris by die vakbond, Gideon du Plessis meen die departement van minerale hulpbronne en energie moet dit oorweeg om weer die hele myn te sluit totdat die mynhuis kan bewys dat dit veilig is om in hulle myne te werk.
Hy sê die feit dat die maatskappy die vorige jaar met ’n swak mynveiligheidrekord afgesluit het en reeds in die eerste maand die eerste fatale ongeluk vir 2022 aangemeld het, is genoeg rede vir drastiese ingryping.
Du Plussis sê Solidariteit is ook uiters bekommerd oor mense se lewens en lewensbestaan wat bedreig word weens ’n slikdam by Sibanye-Stillwater se Beatrix-myn in Welkom se nr. 1-skag wat swak plekke toon en waarvan die wal kan breek indien dit nie dringend herstel word nie.
“Dit is skokkend dat ’n maatskappy so min waarde aan die lewens en bestaan van hulle werknemers heg. Deel van die mynhuis se probleem is hul arrogante en aggressiewe bestuurstyl, wat tydens die huidige salarisonderhandelinge die oorsaak van die loongeskil is ná nagenoeg ses maande se onderhandelinge,” sê Du Plessis.