3 Desember 2021
Die energiemaatskappy, Shell, mag met hulle seismiese opname aan die Wildekus voortgaan – nadat die hooggeregshof op Grahamstad ‘n dringende aansoek om dit te verbied – van die hand gewys het.
Vier organisasies – wat Greenpeace Afrika en Natural Justice insluit – het die hof genader om die opname te probeer stopsit aangesien hulle van mening is dat die opname onherstelbare skade aan die see- en voëllewe gaan aandoen.
Tydens die opname – wat sowat vier maande sal duur – sal die seismiese vaartuig, die Amazon Warrior, lug onder hoë druk uit ‘n windkannon skiet wat klankgolwe teen die seebodem weerkaats in hulle soektog na petroleumbronne.
Shell het in sy hofstukke aangevoer dat die aansoek grens aan mishandeling aangesien daar al ongeveer 325 soortgelyke opnames wêreldwyd onderneem is, sonder dat enige sterftes van seediere of onherstelbare skade al aangemeld is.