7 Maart 2022
Owerhede in Thailand het bevestig dat die voormalige Australiese krieketspeler, Shane Warne wel aan natuurlike oorsake oorlede is.
Dit kom nadat die 52-jarige Warne se liggaam Vrydag in sy hotelkamer op die Koh Samui-eiland gevind is. Volgens voorlopige berigte het Warne ‘n hartaanval gehad, maar sosiale media-gebruikers het dié berigte in twyfel getrek.
Die adjunk nasionale polisiewoordvoerder, Krissana Pattanacharoen sê ‘n nadoodse ondersoek wat in Thailand gedoen is, het bevestig dat Warne wel aan natuurlike oorsake – waarskynlik ‘n hartaanval – oorlede is.
Volgens Pattanacharoen het Warne glo aan sy pa vertel dat hy borspyne beleef het en dat hy van plan was om vroeër terug te vlieg na Australië sodat hy ‘n dokter kon besoek.
Sy liggaam sal nou na die land se hoofstad, Bangkok geneem word sodat die Australiese ambassade in Thailand met die proses kan begin om sy liggaam terug te stuur na Australië, waar hy begrawe sal word.