15 Julie 2022
Sewe van die Vrystaat se top-100-matrieks van 2021 het hul beloofde beurse gekry nadat hulle vir maande gesukkel het.
Agt van die studente het vir AfriForum Jeug om hulp genader nadat hulle beurse teen April nog nie betaal was nie en hulle nie korrespondensie van die beurskantoor ontvang het nie.
AfriForum Jeug het toe regstappe begin neem om te eis dat die Vrystaatse provinsiale beurskantoor die beurse uitbetaal wat die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, aan die toppresteerders beloof het.
Die woordvoerder van AfriForum Jeug, René van der Vyver, sê hulle is verjeug dat die top presteerders so ‘n goeie uitkoms kon kry.
“Behalwe die soet oorwinning dat die verdienstelike studente nou hulle beurse kan ontvang, hoop ons dat hierdie geveg die presedent skep dat politieke leiers hulle beloftes nakom, veral as dit die toekoms van ons jongmense raak,” sê Van der Vyver.
“Ons is baie verlig dat ons beursgelde betaal is. Ons is bevoorreg om hierdie beurse te kan hê en waardeer almal se bydrae tot ons toekoms,” sê Maryke du Pisanie, een van die studente wat deur AfriForum Jeug gehelp is.
“Ek kan nou weer makliker asemhaal en 100% op my studies fokus,” sê Mahike Kilian wat ook deur die jeugorganisasie bygestaan is.
“Ek is baie verlig en bly, dit was n groot stressor vir my gewees deur die jaar en eerste semester, veral voor eksamen toe ek dalk nie my punte sou ontvang nie, so dit is nou n groot las van my skouers af,” sê Jana Briel.