Nuuskommentaar: 22 Augustus 2022
Deur: Jaco Kleynhans
Dit is hierdie week presies ses maande sedert die oorlog in Oekraïne uitgebreek het. Ses maande na die uitbreek van die oorlog is dit steeds onduidelik hoe hierdie vernietigende oorlog tot ‘n einde sal kom. Verlede week het vrese vir ‘n kernramp by die grootste kernkragsentrale in die hele Europa, die Zaporizjzjia kernkragsentrale in die suide van Oekraïne toegeneem met hewige gevegte tussen die Russe en Oekraïne se weermag om beheer oor dié belangrike elektrisiteitsvoorsiener.
Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Antonio Guterres, en die president van Turkye, Recep Erdogan was verlede week op besoek aan Oekraïne waar beide hulle vrese vir ‘n kernramp en die noodsaak vir vredesonderhandelinge uitgespreek het. Die VN en Turkye het onlangs tussen Rusland en Turkye bemiddel om graanuitvoere uit Oekraïne te hervat.
Die gevolge van die oorlog is steeds besig om te verdiep met minstens die helfte van die wêreld se bevolking wat direk daardeur geraak word. Stygende inflasie, voedseltekorte en veral hoë energiepryse is direkte gevolge van die ses maande lange oorlog.
Sanksies deur veral die G7-lande het ernstige langtermyn gevolge vir die Russiese ekonomie maar rig ook groot skade aan internasionale voorsieningskettings en energiemarkte aan terwyl inflasie tot ‘n skerp afname in globale ekonomiese aktiwiteit lei.
Die Russiese weermag verkeer toenemend onder druk in dele van die ooste en suide van Oekraïne. Selfs in die Krim-skiereiland het ontploffings ‘n enorme verlies aan militêre toerusting en voorraad vir die Russe meegebring.
Tussen 70 000 en 80 000 Russiese soldate is reeds in die oorlog dood of beseer wat beteken dat die Russe al hoe minder soldate beskikbaar het. ‘n Geraamde 2 600 gepantserde voertuie van die Russiese weermag is reeds in die oorlog vernietig en byna 70 persent van hul presisiegeleide missiele is reeds afgevuur. Die Russe is tans so desperaat dat halfgeleiers uit yskaste en skottelgoedwassers verwyder word om aan die weermag te verskaf terwyl wapens uit China en Iran aangekoop word.
‘n Gevegsfront van byna 1600 kilometer het die afgelope weke tussen Russiesbeheerde gebiede en die res van Oekraïne begin ontstaan en dit raak duidelik dat sou ‘n vredesonderhandeling nie deur buitelandse rolspelers bemiddel word nie hierdie oorlog nog vir jare kan voortduur. Oekraïne se weermag begin steeds sy voete beter vind soos wat opleiding van soldate deur die Weste en die verskaffing van wapens, veral uit die VSA, na die oorlogsfront deursyfer.
Terwyl Rusland se ekonomie sy grootste inkrimping sedert die groot krisistye van die 1990’s beleef, het stygende brandstofpryse en verskeie stappe deur die Russiese regering die gevolge tot dusver vir Russiese burgers beperk. Tog het soveel as ‘n halfmiljoen hoogsgeskoolde Russe reeds die land verlaat.0
In Duitsland het elektrisiteitspryse reeds verdubbel, as ‘n direkte gevolg van die oorlog en sanksies. In talle Afrikalande is daar reeds tekorte aan koring en meel. Globale ekonomiese groeiverwagtinge vir vanjaar is reeds van meer as 5% tot minder as 3% aangepas. Hoe langer die oorlog voortduur hoe groter sal die skade aan die globale ekonomie wees. Rusland gaan reeds ‘n duur prys vir die oorlog betaal, maar elkeen van ons mag dalk ook en juis daarom is vredesonderhandelinge nou nodig.