8 Junie 2022
‘n Tweede dossier waarin die moord van die voormalige sokkerspeler, Senzo Meyiwa, ondersoek word, het daartoe gelei dat die verhoor van vyf beskuldigdes in die saak tot Maandag uitgestel is.
Die tweede dossier is onafhanklik van die eerste saamgestel en het ander bevindinge – met inbegrip van ander verdagtes – uitgewys.
Advokaat Zandile Mshololo – wat een van die beskuldigdes verteenwoordig – het die hof om uitstel gevra nadat sy vandag ‘n afskrif van die tweede dossier bekom het.
Die inligting wat hierin vervat word is aanvanklik net aan die regsverteenwoordiger van die ander verdagtes, Lalesela Teffo, bekend gemaak.
In die tweede dossier word glo aanbeveel dat Meyiwa se vriendin, Kelly Khumalo, en die ander mense wat in die huis was ten tyde van die skietery – insluitende Khumalo se ma – aangekla moet word.