Sensus 2022: Maak seker dat jou telling iets weeg


Luister nou

Volgende

Sensus 2022: Maak seker dat jou telling iets weeg

Nuuskommentaar: 3 Februarie 2022

Deur: Barend Uys

Statistiek Suid-Afrika se Sensus 2022 het vandag, Donderdag 3 Februarie begin. Vir die eerste keer is dit ook moontlik om in die gerief van jou eie woning en wanneer dit jou pas aan die sensus deel te neem. Mens kan nog tot 5 Februarie aanlyn aandui dat mens graag van die moontlikheid gebruik wil maak, dit is ’n geleentheid wat aangeryp moet word.

Inligting word ingesamel sodat die werklikheid so goed as moontlik verstaan kan word. Wanneer mens die werklikheid goed verstaan, kan mens uitvoerbare planne op grond daarvan maak en die uitkomste wat nodig is bereik. ʼn Onakkurate weerspieëling van die werklikheid lei tot planne wat op lugleegtes gebou word, sulke planne slaag nie.

Dit is dus in die eerste plek baie belangrik om aan die sensus deel te neem. Almal wat planne probeer maak, in die burgerlike, sake- en openbare sektor is afhanklik van dié inligting. Die sensus is egter ook ʼn unieke geleentheid om sake wat vir gemeenskappe belangrik is te bevorder.

Uit ʼn gemeenskapsperspektief is dit uiters belangrik om huistaal korrek aan te dui. Tydens elke taalhofsaak, in elke raadplegingsproses oor die taalbeleid van ʼn regeringsdepartement of ander instelling is die enigste argument waarop ʼn taalgroep staat kan maak om die omvang en belange van die taal te omskryf – en dit word gedoen deur gebruik te maak van sensussyfers. Wanneer die aantal sprekers van ʼn spesifieke taal daal, dien dit as motivering om ’n taal verder af te skaal en te marginaliseer. Een manier waarop die aantal sprekers daal of ʼn taalgroep voorkom om kleiner te wees as wat hul werklik is, is as mense in plaas van hul huistaal ʼn ander taal aandui. Dit is byvoorbeeld ʼn groot uitdaging met Ndebele – as gevolg van komplekse redes word Zoeloe baie keer verkeerdelik as huistaal aangedui. Mens kan maar net wonder of die SAUK die Ndebele radiostasie Ikwekwezi FM uit die Ndebele hartland sou verskuif het indien die Ndebele sprekergetalle reg was.

Die sensus bied ook vir kultuurgemeenskappe die geleentheid om kulturele identiteit te bevorder en om seker te maak dat die ware, uiters komplekse, veelvolkige karakter van Suid-Afrika akkuraat vasgevang word. Die eenvoudige werklikheid is dat hier aan die suidpunt van Afrika nie net vier of vyf rasgroepe leef nie. Ras kan nie konsekwent, objektief en regverdig bepaal word nie. Dit is in beginsel verkeerd om rasseklassifikasie toe te pas of om van mense te verwag om self-klassifikasie toe te pas. Die onnatuurlike saambondeling van burgers van verskillende kultuurgemeenskappe in rasgroepe bevoordeel slegs die regerende party en die heersende elite. Jy moet besluit wie se agenda jy gaan dien – die van die regerende party of die van jou volk.

Indien ons ʼn beter toekoms vir ons kinders wil hê, sal ons iets moet doen. Wanneer die sensus voltooi word kan mens in plaas daarvan om een van die rasgroepe te kies, “ander” kies; en in die plek wat verskaf word, die naam van jou kultuurgemeenskap invul. Indien dit deur miljoene burgers gedoen word, sal die werklikheid akkuraat weerspieël word. Dit sal ook ’n baie belangrike boodskap aan die owerhede stuur: ons is klaar met die drogwerklikheid van ras.

Ek het geen belang by wat my sogenaamde ras is nie en ek het geen manier om te weet wat dit volgens die politici veronderstel is om te wees nie – maar ek is doodseker ek is ʼn Afrikaner. Dit is vir my belangrik dat dié kulturele identiteit van my met sy diep wortels en voete wat stewig in Afrika geplant is erken word, kan leef en gedy. Dit is ook belangrik dat die kulturele identiteit van ander volke hier behou en gebou word – dit gee aan ons landstreek diepte en maak dit ryk en mooi.

Maak seker dat die inligting wat jy gee wanneer jy aan Sensus 2022 deelneem, nie net getel kan word nie, maar dat dit vir jou kultuurgemeenskap waarde het, dat dit iets weeg.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

Screenshot 2025-05-09 145302

Minister van verdediging loop vergadering mis oor DRK-troepe weens Rusland besoek

Photography for Brenthurst Wealth Management in July 2017  by Jeremy Glyn. 
+27828523747

Magnus Heystek oor beleggings in onsekere tye

GNOwtCrWUAAJNit

Islamitiese staat van Afrika wil politiek betree

Screenshot 2025-05-09 105122

IPL T20-kriekettoernooi opgeskort weens konflik

POTTE

Tweepot: 75% van Suid-Afrikaners onttrek weer geld

Ander Nuus Artikels

Plastic view
PLASTIC VIEW MAAK DRAAI IN DIE PARLEMENT
Internasionale perspektief
Die Suid-Tirool-model moet globaal meer aandag kry
Office-Johannesburg
“Johannesburg kan nie meer van krisis tot krisis voortstrompel”
Screenshot 2025-05-09 145302
Minister van verdediging loop vergadering mis oor DRK-troepe weens Rusland besoek
Photography for Brenthurst Wealth Management in July 2017  by Jeremy Glyn. 
+27828523747
Magnus Heystek oor beleggings in onsekere tye

Sensus 2022: Maak seker dat jou telling iets weeg


Luister nou

Volgende