14 April 2021
‘n 45-jarige senior staatsaanklaer is in die Lichtenburg-landdroshof in Noordwes op borgtog van R10 000 vrygelaat nadat hy na bewering ‘n 15-jarige meisie verkrag het.
Hy staar aanklagte van statutêre verkragting, seksuele uitbuiting van kinders, seksuele voorbereiding en seksuele aanranding in die gesig. Hy het na bewering ook die kind aan pornografie blootgestel.
Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag in Noordwes se woordvoerder, Henry Mamothame het die beweerde verkragting in 2019 plaasgevind.
Die aanklaer is intussen geskors hangend die uitkoms van die saak teen hom. Hy mag luidens sy borgtog voorwaardes geen kontak met die kind of ander getuies hê nie.
Die saak is tot 17 Mei uitgestel vir verdere ondersoek.