9 Desember 2022
Lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Hartbeespoortdam en Gauteng staan tans nooddienste in die weste van Johannesburg by nadat verskeie dele oorstroom het.
Die NSRI se woordvoerder, Craig Lambinon sê hulle het reeds sedert 04:30 vanoggend oproepe ontvang van mense wat geraak word deur vloede nadat dit reeds sedert vroeg vanoggend reën. Hy sê talle mense is in hulle huise en motors vasgekeer, terwyl talle mense ook as vermis aangemeld is.
Hy sê NSRI-lede moes veral bontstaan in Florida, Lenasia en by die Kliprivier in Soweto. Volgens hom was hulle teen vroegmiddag reeds by nagenoeg 150 reddingsoperasies betrokke.
Lambinon sê hulle verwag dat die reddingsoperasies nog lank sal voortduur en het daarom bykomende lede van die NSRI ontplooi.