10 Augustus 2023
Daar is tot gister 198 strafregtelike klagtes by die polisie gelê wat verband hou met die minibus-taxi-staking in die Wes-Kaap.
Die klagtes spruit voor uit ‘n staking van die taxi-vereniging, Santaco, en sluit onder meer klagtes van moord, poging tot moord, brandstigting en kwaadwillige saakbeskadiging aan eiendom, aanranding en aanranding met die opset om ernstig te beseer, in.
Die kabinet het intussen die polisie en wetstoepassers opdrag gegee om die geweld in dele van die provinsie weens die taxi-staking in bedwang te bring sodat inwoners met hul normale take kan voortgaan.
Die minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die kabinet veroordeel die geweld en anargie. Sy sê die minister van vervoer is opdrag gegee om enige regulasies rakende die minibus-taxi-bedryf in die Kaapse-metro wat verskil van die nasionale wette te verwyder.
Die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis en die Wes-Kaapse premier, Alan Winde het vroeër Santaco genooi om samesprekings te voer in ‘n poging om ‘n oplossing vir die voortslepende minibus-taxi-staking te vind, maar die vereniging het die uitnodiging van die hand gewys.
Santaco doen tans aansoek om ‘n dringende interdik sodat minibus-taxi’s wat deur die metro geskut is, aan die eienaars terugbesorg word en eis dat die metro en die Wes-Kaapse regering nie verder minibus-taxi’s skut totdat hul griewe opgelos word nie.
I’m pleased with this statement from the National Cabinet – standing up for the rule of law and greater commuter safety for taxi passengers. 👏👏👏
— Geordin Hill-Lewis (@geordinhl) August 10, 2023
That is our number 1 focus! Safer roads for all. https://t.co/XgVCOq7hZN
