9 April 2021
Die omstrede vlug van die Suid-Afrikaanse Lugdiens wat gestuur is om Covid-19-entstof in België te gaan haal is weer in die kollig nadat daar beweer word dat dit nie net onnodig was nie, maar ook onwettig.
Die huurvlug wat die belastingbetaler ongeveer R5-miljoen gekos het was oorbodig want dit wil nou voorkom asof die koopprys van die Johnson & Johnson-entstof die afleweringskoste ingesluit het.
Die DA se parlementslid, Alf Lees is van mening dat die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, aanspreeklik gehou moet word aangesien hy en sy personeel die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies doelbewus gesystap het.
Volgens hom sou die vervoer van die entstof op ‘n kommersiële vlug ‘n fraksie van die koste van ‘n huurvlug gewees het.
Dit is dieselfde vlug wat vroeër in die nuus was nadat die opstyggewig glo verkeerd uitgewerk is en die vliegtuig se outomatiese beheerstelsels moes oorneem om te verhoed dat die vliegtuig neerstort.