3 Desember 2021
Prokureurs vir Sakeliga en vier ander sakeoganisasies het ’n brief insake die kwessie van verpligte inenting aan die Presidensie gestuur.
Sakeliga sê in ‘n verklaring dat die brief lui: “Ons kliënte is gekant teen staatsgedrewe verpligte inentingsbeleid en moniteringsmeganismes soos inentingspaspoorte, benadeling en uitsluiting van on-ingeënte persone, en regulatoriese verpligting op besighede om verpligte maatreëls moontlik te maak en af te dwing.”
LEES OOK: SA WEER OP BRITTANJE SE ROOILYS WEENS NUWE COVID-19 VARIANT
In die brief, voer Sakeliga onder meer aan dat hul kliënte nié geraadpleeg is oor enige proses nie en dat enige proses wat voorgee om dit te gedoen het gebrekkig is.
Sakeorganisasies verteenwoordig in die brief sluit in Agri Noord-Wes, die Nasionale Werkgewersorganisasie van Suid-Afrika (NEASA), SAAI, Sakeliga en TLU SA.
Die uitvoerende hoof van Sakeliga, Piet le Roux sê die brief volg op ‘n stelling van president Cyril Ramaphosa se onlangse toespraak waarin hy aangevoer het dat “daar algemene ooreenstemming is oor die noodsaak van sodanige maatreëls (staatsgedrewe beleid vir verpligte inenting).”
Le Roux meen president Ramaphosa het ’n week gelede uitdruklike versekering gehandhaaf dat daar geen benadeling of verpligting gegrond op inentingstatus vir persone sou wees nie.
LEES OOK: PHAAHLA: “KOM ASSEBLIEF ALLE COVID-19-MAATREËLS NA”