19 Maart 2024
Die organisasie vir die sake-gemeenskap, Sakeliga sê hy het nog ‘n deurbraak in die hof behaal – hierdie keer om dorpe se sakelui en inwoners teen onregmatige en onbekostigbare munisipale invorderingspraktyke te beskerm.
Die hofbevel verbied ’n eksterne maatskappy, Ideal Prepaid, om plaaslike heffings en belastings in te vorder.
Dit volg nadat ’n ooreenkoms – wat Sakeliga aanvoer onregmatig is – tussen die Kgetlengrivier plaaslike munisipaliteit en die onderneming gesluit is.
Die hof het Kgetlengrivier ook beveel om slegs gelde in te vorder vir munisipale dienste, heffings, en belastings nadat hulle belastingfakture daarvoor uitgereik het.
Sakeliga en plaaslike sakelui het die hofsaak gebring om skade te verhoed nadat die munisipaliteit Ideal Prepaid – ’n diensverskaffer wat reeds die verkoop van elektrisiteit in die dorp bestuur – verder aangestel het om heffings en belastings namens die munisipaliteit in te vorder.