10 Januarie 2022
Prokureurs verbonde aan die sake-organisasie, Sakeliga is opdrag gegee om ‘n versoek kragtens die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Ouditeur-Generaal te lewer, ten einde spesifieke bestuursverslae te bekom wat glo na afhandeling van die staatsouditeur se jaarlikse oudit, aan die onderskeie munisipaliteite se bestuurspanne voorgelê word.
Die bestuursverslae word by die Ouditeur-Generaal aangevra ten opsigte van 154 probleem-munisipaliteite landswyd waar daar ernstige probleme met dienslewering en finansiële administrasie is.
“Sakeliga wil hierdie verslae ontleed ten einde langtermyn-strategieë te verfyn vir sake-selfstandigheid te midde van staatsverval op munisipale vlak,” sê die organisasie regs- en skakelbeampte, Tian Alberts.
Hy sê die bestuursverslae, wat deur Sakeliga versoek is, handel oor korrupsie by spesifieke munisipaliteite, asook finansiële- en bestuursgebreke wat deur die ouditspanne opgemerk is, waar die jaarlikse ouditverslae van die Ouditeur-Generaal, wat algemeen beskikbaar is vir die publiek, grootliks opsommend en formeel is.
“Sakeliga se versoek vir toegang tot die bestuursverslae by die 154 probleem-munisipaliteite volg op die ontvangs van dergelike bestuursverslae oor die laaste vyf jaar van die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit (wat die dorpe van Koster, Swartruggens, en Derby diens). Die bestuursverslae sit korrupsie, verval en finansiële krisis by die munisipaliteit in besonderhede uiteen. Die laasgenoemde rekords – ook kragtens PAIA versoek – is aanvanklik weerhou, maar aan Sakeliga gelewer ná ‘n hofbevel in Februarie verlede jaar en daaropvolgende dreigement van ‘n minagtingsaansoek by die Hooggeregshof,” verduidelik Alberts.