6 Augustus 2021
Die sakeorganisasie, Sakeliga het sy stem gevoeg by dié wat hulle teenkanting uitspreek teen verpligte inentings-programme teen Covid-19 in die werksplek.
Dit volg nadat ‘n mediaverklaring van ‘n direktief in dié verband van die minister van arbeid – die lig gesien het.
Die uitvoerende hoof van Sakeliga, Piet le Roux sê die organisasie neem kennis daarvan dat sekere werkgewers – insluitend ondernemings in staatsbesit – nou ‘n proses begin het wat verpligte inentings van werknemers en onafhanklike kontrakteurs vereis.
Le Roux sê in hierdie verband word verskeie meganismes aangewend om werknemers te verplig om deel te neem aan inentingsprogramme, waaronder dreigemente van ontslag of ander dissiplinêre strawwe.
“Sakeliga ondersteun vrywillige inentingsprogramme in die werksplek. Geen werknemer behoort egter verplig te word of kan volgens wet verplig word om mediese intervensies teen hul wil en buite-om die dienskontrak te onderneem nie, en direktiewe of beleidsrigting van die Departement van Arbeid tot die teendeel is ongeldig,” sê Le Roux.
Sakeliga se skrywe aan die minister van arbeid eis teen 12 Augustus ‘n terugtrekking van die onlangse beleidsdirektief .
Hou Afrikaans op die lug