18 Januarie 2022
Sakeliga se regspan het per brief aangedring op die verpligte beëindiging van die huidige nasionale ramptoestand, wat weer onlangs tot 15 Februarie verleng is.
In die brief dring die organisasie daarop aan dat die hoof van die Nasionale Rampbestuursentrum (NRBS), dr. Mmaphaka Tau, sy klassifikasie van COVID-19 as ’n nasionale ramp teen 28 Januarie 2022 heroorweeg en herroep.
“Die nasionale ramptoestand is bykans twee jaar gelede, in Maart 2020, afgekondig op grond van hierdie klassifikasie wat die NRBS kragtens artikel 23 van die Wet op Rampbestuur (WRB) uitgereik het. Indien die klassifikasie herroep word, sal die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma verplig wees om haar verklaring van ’n “nasionale ramptoestand” te herroep en sal sy dit nie weer kan verleng nie,” sê die uitvoerende hoof van Sakeliga, Piet le Roux.
LEES OOK: BEËINDIG RAMPTOESTAND OP 15 JANUARIE, VRA DIE DA
Hy sê indien die klassifikasie nie teen 28 Januarie heroorweeg en herroep word nie, sal Sakeliga die hof nader om die NRBS te las om die rampklassifikasie ingevolge artikel 23 van die WRB te heroorweeg.
Le Roux sê Sakeliga doen hierdie stappe om ’n terugkeer na normaliteit op die gebied van die handel en sosiale orde te verseker, en daarvoor is dit nodig om ’n einde te maak aan die regering se oënskynlike magte om arbitrêre regulasies op kort kennisgewing uit te reik en te wysig.
“Die beëindiging van die “ramptoestand” is noodsaaklik om die toenemende onstabiliteit in Suid-Afrika teen te werk, indiensname vir die meer as ’n miljoen mense wat deur die regering se inperkingsbeleide werkloos gemaak is te begin herstel, en om ’n onmiddellike oplewing in toerisme moontlik te maak.”