9 Januarie 2023
Die sakeorganisasie, Sakeliga sê die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana-Dlamini Zuma, bly in minagting van ‘n hofbevel wat beslis het dat sy verskeie rekords oor haar 2020-ramptoestandbesluite aan Sakeliga moet voorsien.
Sakeliga sê omdat die minister steeds nie die rekords verskaf het nie, het hul nou besluit om te begin met ‘n proses om die minister aan minagting van die hof skuldig te laat verklaar.
Dlamini-Zuma moes kragtens ‘n bevel wat Sakeliga op 9 November 2022 bekom het ‘n verskeidenheid rekords waarop sy gesteun het toe sy die nasionale ramptoestand in Maart 2020 afgekondig het en telkens daarna verleng het, teen 22 Desember 2022 aan Sakeliga oorhandig.
Sy het dit nie gedoen nie. Instede daarvan het die staatsprokureur, in opdrag van Dlamini-Zuma, rekords oor geïsoleerde besluite wat reeds in die openbare domein beskikbaar is, gelewer.
Die uitvoerende hoof van Sakeliga, Piet le Roux sê daarop het Sakeliga ‘n verlengde sperdatum van 6 Januarie 2023 aan die minister gestel.
“In reaksie op die verlengde sperdatum het die staatsprokureur bokse lêers by ons prokureurs se kantore afgelewer – sowat 3800 bladsye – wat uitsluitlik bestaan uit dokumente vir publieke deelname en navorsingsdokumente wat verband hou met die April 2020-verbod op die verkoop en verspreiding van tabak.”
Le Roux sê Sakeliga het nou die staatsprokureur versoek om teen 11 Januarie Dlamini-Zuma se versuim om rekord te lewer na bevrediging te verduidelik.
Die inligting wat die hof Sakeliga toegestaan het sal lig werp op die besluite van Dlamini-Zuma en ‘n regering wat vir langer as twee jaar Covid 19-maatreëls ingestel het.