6 Julie 2023
Die 2023-belastingseisoen open Vrydag op 7 Julie, maar die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het reeds die afgelope Sondag begin om outo-asseserings uit te reik en terugbetalings te doen met sommige belastingbetalers wat nie eers bewus is dat hulle outomaties geassesseer is nie.
Die maatskappy, Everest Wealth sê belastingbetalers wat outomaties deur die SAID geassesseer word, moet dit nie net gelate aanvaar nie aangesien dit daartoe kan lei dat jy jou volle terugbetaling verloor of selfs glad nie ‘n terugbetaling ontvang nie al is jy geregtig daarop.
Die hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth, Thys van Zyl sê indien ʼn belastingbetaler ʼn outo-assessering en terugbetaling ontvang het voor enige veranderinge aangebring kon word, kan ʼn belastingopgawe steeds soos normaal ingedien word wanneer die belastingseisoen amptelik môre begin.
“Dit is dalk wys om eerder die terugbetaling een kant te hou tot die gewysigde weergawe verwerk is.” Hy meen deur steeds ʼn belastingopgawe in te dien kan belastingbetalers verseker dat alle aftrekkings wel ingesluit is ten einde minder belasting te betaal en ʼn terugbetaling te ontvang.
Belastingbetalers het tot Maandag 23 Oktober om hul belastingopgawes in te dien.
