17 Oktober 2022
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal binnekort ‘n nuwe reispas of aanlyn verklaringstelsel bekendstel, vir alle reisigers – insluitend Suid-Afrikaanse landsburgers – wat die land verlaat óf binnekom.
Volgens die SAID sal die pas die reis-proses vergemaklik en sal op 1 November 2022 in werking tree.
“Die nuwe stelsel se doel is om inligting in te samel, waarna die reisiger dan sy pas via e-pos sal ontvang.”
Hierdie pas geld vir alle persone wat die land per vliegtuig verlaat en binnekom, en geld vir internasionale toeriste en Suid-Afrikaners, insluitend kinders en babas. Volgens die SAID sal reisigers hulle pas ontvang voordat hulle op die vliegtuig moet klim.
Die nuwe aanlyn-stelsel sal in alle internasionale lughawens in die land bekend gestel word. Dit sal eerste by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg gebruik word. Dit sal in 2023 by die ander lughawens in gebruik geneem word.