7 Augustus 2024
Die pastoor van die kerk, Church of Incredible Endings in Kathlehong, Paseka Motsoeneng het saam met sy seun en drie ander mense vanoggend in die Palm Ridge-landdroshof verskyn.
Dit kom nadat ‘n video aan die lig gekom het waarin Motsoeneng personeellede van die Matsediso Laerskool in Kathlehong met ondermeer ‘n panga dreig. Die voorval hou glo verband met ‘n dispuut oor sy kleinkinders se toesig, wat leerlinge van dié skool is.
Die saak teen die vyf verdagtes is tot 16 Augustus uitgestel sodat hulle regsverteenwoordigers vir die borgtogaansoek voor kan berei.
Die woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, Steve Mabona het buite die hof benadruk dat die provinsie se skole veilig is. Hy meen hierdie voorval was ‘n familie-rusie, en spreek nie tot skole se veiligheid nie.
Hy het ‘n beroep op mense gedoen om nie misdaad na skole te neem nie.