26 November 2021
Suid-Afrika, Namibië, Lesotho en Eswatini is weer op Brittanje se rooilys.
Alle vlugte van hierdie lande na Brittanje gaan om 2 uur vanmiddag opgeskort word. Britse landsburgers, wat terugkeer huis toe sal nou vir twee weke in kwarantyn moet wees.
Die besluit is geneem nadat die nuwe Covid-19-variant, B.1.1.529 in Suid-Afrika, Botswana en Hongkong opgemerk is. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes – Nios – het gister bevestig dat daar 22 gevalle in Suid-Afrika is.
Intussen sê die Suid-Afrikaanse regering dat Brittanje se besluit om die land op sy rooilys te plaas voortydig is.
Die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Naledi Pandor sê haar departement sal nou met die Britse regering in gesprek tree. Sy sê sy is bekommerd dat dié besluit ‘n verwoestende uitwerking op die toerismebedryf en ander besighede sal hê.
Stem vir die Aitsa’s