Nuuskommentaar: 21 Junie 2023
Deur Jaco Kleynhans
President Cyril Ramaphosa het verlede week ’n afvaardiging van vyf Afrika-staatshoofde op besoek aan Oekraïne en Rusland gelei. Terwyl die Ramaphosa-regering die besoek aangebied het as ’n vredesmissie met die doel om ’n vredesooreenkoms tussen Oekraïne en Rusland te bemiddel, was dit duidelik dat hierdie besoek geen bydrae kon lewer om vrede in Oekraïne moontlik te maak nie.
Die oorlog wat reeds byna sestien maande in Oekraïne voortwoed, het ’n lang aanloop gehad, en dit is duidelik dat die komplekse aard van die oorlog nie net samewerking van Oekraïne en Rusland se kant sal vereis nie, maar ook sal vereis dat groot wêreldmoondhede moet saamwerk om ʼn proses te bemiddel wat uiteindelik minstens op ʼn skietstilstandooreenkoms kan uitloop.
Indien die hele Europa, die VSA, Turkye en China nog nie daarin kon slaag om Rusland en Oekraïne gesamentlik of afsonderlik tot ʼn skietstilstandooreenkoms te oortuig nie, is dit geensins verbasend dat vyf Afrika-staatshoofde se kort besoekie aan Kiëf en Sint Pietersburg nou nie juis enige vrugte sal afwerp nie.
Dit is opvallende hoe verskillende Afrika-leiers die besoek aangebied het. Terwyl die staatshoofde van lande soos Zambië en Senegal verwagtinge afbestuur het, het Ramaphosa en sy span die indruk geskep dat hulle gereed is om vrede tussen Oekraïne en Rusland te sluit. Buiten vir Ramaphosa se span wat hom op sy vliegtuig vergesel het, het die regering besluit om miljoene rande te spandeer deur ‘n huurvlug met byna 120 hoogs gespesialiseerde veiligheidsbeamptes van die Presidensiële Beveiligingsdiens, die polisie en die weermag tesame met ’n groot afvaardiging joernaliste op die besoek te stuur.
Die veiligheidspersoneel en joernaliste op die vliegtuig is in Pole verhoed om deur doeane te gaan omdat daar ook vyf groot houers met wapens en ammunisie aan boord was. Terwyl die ander vier Afrika-leiers wat saam met Ramaphosa op die besoek was, een of twee lyfwagte en ʼn raadgewer en kommunikasiepersoon saamgeneem het, was Ramaphosa van plan om met 140 raadgewers, sekuriteitspersoneel en joernaliste op te daag.
Dit is duidelik dat die besoek swak beplan was, en die Poolse regering het nie doekies hieroor omgedraai nie. Die hoof van Ramaphosa se beskermingsdiens, Generaal Wally Rhoode, het sommer vinnig beweer dat die Pole die besoek wou saboteer en dat die Pole rassiste is. Intussen het dit aan die lig gekom dat die Pole heeltemal korrek was om Ramaphosa se klein weermag van veiligheidspersoneel toegang te weier.
Na ʼn tien-ure-treinrit van Pole tot in Kiëf het Ramaphosa die volgende blaps begaan deur te dink dat hy eenvoudig ʼn kitsvredesoplossing aan Zelensky kon voorhou. Die Oekraïense president het dit duidelik gestel dat daar geen kitsoplossing vir die oorlog is nie en dat sy weermag tans met ʼn reuse-teenoffensief besig is terwyl hulle steeds eis dat Rusland uit hulle grondgebied moet onttrek.
Ook die besoek aan Poetin in Sint Petersburg ʼn dag later het dadels opgelewer, behalwe dat die oordadige solidariteit tussen Poetin en die Afrika-leiers tot selfs groter kommer in die Weste aanleiding kan gee.
Suid-Afrika se geloofwaardigheid op die internasionale verhoog kwyn al hoe vinniger. Verlede week se uitstappie deur Ramaphosa na Kiëf en Sint Petersburg en sy span se swak beplanning, arrogansie en oordadige aanbod van onbereikbare doelwitte dra net verder hiertoe by. Die Suid-Afrikaanse keiser is kaal, maar hy hou steeds aan met spog oor sy onsigbare kleed.
