9 Oktober 2023
Die Suid-Afrikaanse regering sê hy is diep bekommerd oor die afgelope naweek se eskalasie in die Israelies-Palestynse konflik.

In ‘n verklaring wat deur die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, Dirco, uitgereik is, is die optrede deur die Palestyne die gevolg van die sogenaamde voortgesette onwettige besetting van Palestynse grond.
Pretoria het ook die voortgesette nedersettingsuitbreiding, ontheiliging van die Al Aqsa-moskee en Christelike heilige plekke, en die voortdurende onderdrukking van die Palestynse volk as redes aangevoer vir die Palestynse optrede.
Dirco sê Suid-Afrika – wat saam met die internasionale gemeenskap werk – poog om ‘n blywende vredesoplossing te verseker vir ‘n twee-staat oplossing – binne die 1967 internasionaal erkende grense wat in 1967 voorgestel is – met Oos-Jerusalem as sy hoofstad.
Intussen het Israel 300 000 reserviste opgeroep in reaksie op die aanvalle. Die regering sê hulle het nog nooit so baie reserviste op een slag opgeroep nie, maar gegewe die situasie het hulle geen ander keuse nie.”