Nuuskommentaar: 28 Junie 2023
Deur: Jaco Kleynhans
Wat die afgelope naweek in Rusland gebeur het met die kortstondige opstand deur die berugte Wagner- private militêre groep en die groep se selfs meer berugte leier, Jefgeni Prigozjin, bewys die uitdagings wat die Russiese president, Wladimir Poetin, tans in die gesig staar. Vandag, sestien maande ná Rusland se inval in Oekraïne, is dit duidelik dat daar wesenlike spanning bestaan tussen die verskillende magsbasisse en militêre groepe wat by die oorlog betrokke is.
Dit is belangrik om deeglik te verstaan wie Prigozjin en sy Wagner-groep is. Prigozjin het in die 1980’s tronkstraf vir verskeie ernstige misdade uitgedien. In die 1990’s het hy in Sint Petersburg ʼn spysenieringsonderneming begin. ʼn Vriendskap tussen Prigozjin en Poetin, toe adjunkburgemeester van Sint Petersburg, het ontstaan, en uit regeringskontrakte kon Prigozjin ʼn sterk sakeonderneming opbou. Dit is voortspruitend uit Prigozjin se vroeë bande met Poetin en ʼn groep oligarge wat die afgelope drie dekades ʼn reusagtige rol in die Russiese ekonomie speel.
Die Wagner-groep het in 2014 te voorskyn gekom met Rusland se anneksasie van die Krim-skiereiland. In die daaropvolgende jare was die groep betrokke in die konflik in die oostelike Donbas-streek van Oekraïne sowel as in interne konflik en burgeroorloë in Sirië, Libië, Mali, die Sentraal-Afrika Republiek, en die afgelope paar weke ook in Soedan.
Wagner het die afgelope paar jaar ʼn berugte reputasie ontwikkel as ʼn wrede en vreeslose private militêre groep wat gemaklik met terreurgroepe, rebellemagte, oligarge en diktators sal saamwerk om hierdie groepe en individue se doelstellings te bereik in ruil vir enigiets van goud, diamante, olie en geld. Wagner gebruik duisende huursoldate en selfs kriminele wat in tronke gewerf word om dikwels brutale militêre doelwitte vir kliënte te bereik.
Met die oorlog in Oekraïne het dit duidelik geword die Wagner-groep speel ʼn belangrike rol in die voorste linies van Rusland se poging om beheer oor talle dorpe en stede in Donetsk en Loehansk te verkry. Daarmee saam het Prigozjin se openbare profiel ook toegeneem. Die afgelope paar maande het hy egter toenemend kritiek oor die leierskap van die Russiese weermag begin uitspreek.
Wagner is maar een van verskeie private militêre groepe in Rusland wat teen betaling deur die Russiese weermag in die voorste linies van konflik gebruik word. Vir Prigozjin is die Wagner-groep se betrokkenheid in die oorlog in Oekraïne suiwer besigheid.
Die feit dat Prigozjin Saterdag sy troepe se opmars na Moskou afgelas het en tot ʼn skikking met Poetin ingestem het, dui waarskynlik op Wagner se onvermoë om ʼn volskaalse burgeroorlog teen die Russiese weermag te wen. Terwyl dit die einde van Prigozjin se twyfelagtige loopbaan as oorlogskurk kan beteken, het die gebeure ook duidelik uitgewys dat daar wesenlike uitdagings in Rusland bestaan.
Wat ook al jou standpunt oor Poetin, Rusland en die oorlog is, ʼn mens moet besef dat ʼn meer onstabiele Rusland sleg is vir die res van die wêreld. In die huidige globale magstryd, verskeie huidige konfliksituasies en dreigende konfliksituasies, sou ʼn stabiele Rusland wat ʼn bydrae tot ʼn gesonde globale magsbalans kon lewer, veel beter gewees het as ʼn geïsoleerde Rusland met wesenlike binnelandse spanning. Die voortslepende oorlog in Oekraïne en Rusland se groeiende binnelandse uitdagings voorspel niks goed vir Europa, Wes-Asië en die hele wêreld nie.
