Nuuskommentaar: 24 Januarie 2022
Deur: Dr Hercules Boshoff
Mens sou nie van oordrywing beskuldig kan word as jy die reaksie op die pandemie met die woord ‘paniek’ beskryf nie.
Daarom sal dit raadsaam wees om te oorweeg wat gebeur wanneer paniek die samelewing so reëlmatig binnedring dat dit ʼn bepalende invloed op ons alledaagse bestaan het. Etimologies het die woord paniek sy oorsprong in die Griekse mitologie, by die god Pan. Bes moontlik het die luisteraars al afbeeldings van Pan gesien waarin hy as ʼn figuur met ʼn menslike bolyf en bokpote, met horings en ʼn bokbaardjie uitgebeeld word. Hy was dan ook die god van die vlok, en soos ons weet, van wyn.
Hy het oor die vermoë beskik om die vlok byeen te bring, maar nie alleen om die landbou te dien nie; soms kon hy ook die vlokke onder ʼn beswyming bring en hulle berserk maak. Hy het in die woud gewoon en het soms wandelaars in angsvalligheid gedompel met ʼn oorverdowende skerp gil. Indien ons heelparty van die waansinnige maatreëls en mense se omgang met mekaar rondom aangeleenthede van byvoorbeeld die inenting betrag, kan mens nie anders nie as om te dink dat, soos Paulus dit gestel het, ons met meer as net ʼn blote stryd teen vlees en bloed te make het. Iets het binne ons gees losgekom wat dringende aandag en gesprek verg.
Die woord pan-demie bevat natuurlik ook die voorvoegsel pan, wat hier wys op alles, terwyl demos na mense verwys, dus is pandemie letterlik iets wat almal affekteer. Met die begrip pandemie word alle onderskeide dan opgehef, wat vir een geld moet vir almal geld. Die gesamentlike skrik en besef van die krisis vergun ʼn oomblik waarbinne mense veronderstel is om tot verhaal te kom. Indien mens nie tot verhaal kom nie val jy vas in ʼn woud van paniek en selfs die dierlike en die menslike word ononderskeibaar van mekaar.
Die paniek vind dan uitdrukking deur verskillende uitlaatkleppe, in die geval van ons huidige situasie in histerie en paranoia. In die eerste geval word die aandrang op eenheid oorspeel, wanneer daar byvoorbeeld aangedring word dat almal dieselfde behandeling moet ontvang, en in die tweede geval is daar ʼn siniese ingesteldheid tussen lede van die samelewing en instansies wanneer daar byvoorbeeld gesê word die inenting dra die merk van die dier. Histerie en paranoia maak egter twee kante van dieselfde muntstuk, naamlik die vasval in paniek, uit. Dit moet beklemtoon word dat nie een van hierdie opsies vir ons ʼn uitkoms gaan bring nie, maar ons net verder in paniek gaan laat verval.
Die uitdaging is dan om te ontwaak uit die beswyming van paniek, nie deur buitengewone optrede of die versugting na helde wat ons moet lei nie, maar deur elkeen gewoon die lewe met sy alledaagse dinge te trotseer en met ander mense genuanseerd en beskaafde gesprek voer, in plaas daarvan om panies te gil. Ons grootste bate is nie een of twee oplossings wat op welke wyse afgedwing moet word nie, maar beskawing. Solank dit gesond bly, kan ons alle uitdagings gelate en met selfvertroue aanpak.