Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sal om 11:00 vanoggend tydens ‘n mediakonferensie die werkkomitee van dié party se besluite rakende die toekoms van die regering van nasionale eenheid (RNE) bekend maak.
Die nasionale werkkomitee van die ANC het gister vergader oor ‘n pad vorentoe vir die RNE, en meer spesisiek die DA se rol binne die RNE.
Dit kom nadat die partye nie onlangs ‘n ooreenkoms kon bereik oor die 2025-begroting nie. Die ANC het verlede week vir die begroting gestem, terwyl die DA, en die VF Plus (beide RNE-vennote) teen dit gestem het. Sedertdien heers daar spanning tussen die partye, met sommige ANC-lede wat daarop aandring dat alle partye, wat teen die fiskale raamwerk gestem het, uit die RNE geskop moet word.
Die adjunk-president, Paul Mashatile is een van die AND-lede wat sterk daaroor voel dat die DA nie in die regering moet dien nie. Hy het gister gesê dat hy homself sou skaam as hy ‘n DA-minister was wat teen die begroting gestem het.
Volgens berigte van die nuusdiens, EWN, kan die ANC se besluite moontlik ‘n kabinet-skommeling inhou.