Nuuskommentaar: 14 Februarie 2022
Deur: Jaco Kleynhans
Die Amerikaanse regering het die afgelope naweek besluit om die meeste van sy personeel uit dié land se ambassade in die hoofstad van Oekraïne, Kiëf, te onttrek terwyl verskeie Europese lande dieselfde begin doen het. President Joe Biden van die VSA is duidelik oortuig daarvan dat Rusland binnekort ‘n aanval op Oekraïne gaan loods. Die Britse Eerste Minister Boris Johnson het oor die naweek gesê dat dit tans die gevaarlikste tyd in dekades in Europa is. Dit sou egter ‘n fout wees om ander probleme in die wêreld nou mis te kyk.
Sou die huidige onderhandelinge om ‘n nuwe kernooreenkoms met Iran te bereik nie slaag nie kan verwag word dat Iran binnekort oor die vermoë sal beskik om ‘n kernwapen te vervaardig. Daar is min tyd oor vir Westerse lande om in samewerking met Rusland en China so ‘n ooreenkoms met Iran uit te werk.
Israel is baie sterk teen so ‘n ooreenkoms gekant en dit lyk toenemend of Israel reg in eie hande wil neem met ‘n toekomstige aanval op Iran wat nie uitgesluit kan word nie. Israel het juis die afgelope tyd sy aanvalle op teikens in Sirië opgeskerp.
Geweld in Sirië het die afgelope weke toegeneem en dit is duidelik dat terreurgroepe soos die Islamitiese Staat besig is om in Sirië en Irak te hergroepeer en dat hulle weer oor die vermoë beskik om groot aanvalle uit te voer. In die Sahel-streek van Noord-Afrika is die aktiwiteite van Islamitiese terreurgroepe ook besig om hand uit te ruk en na talle militêre staatsgrepe is dié streek nou so onstabiel dat Westerse magte oorweeg om te onttrek wat die terreurgroepe se posisie verder sal versterk. Die verspreiding van Islamitiese terreur deur ‘n groter deel van die Afrika-kontinent lyk al hoe meer waarskynlik.
In die Midde-Ooste is onstabiele lande die reël eerder as die uitsondering. Afganistan dreig om finaal in duie te stort terwyl die veiligheidsituasie in sy buurland, Pakistan ook versleg. Pakistan is ‘n kernmoondheid en verskeie terreurgroepe in dié land het die afgelope tyd aanvalle geloods. Intussen neem die spanning tussen Pakistan en Indië ook weer toe met Pakistan se Eerste Minister Imran Khan wat onlangs gesê het dat Indië die grootste bedreiging vir vrede in die streek inhou.
Terwyl die wêreld se fokus die afgelope weke na die moontlike konflik tussen Rusland en Oekraïne verskuif het, moet China se dreigende inval van Taiwan nie uit die oog verloor word nie. China se volgehoue aggressiewe houding teenoor Taiwan en talle buurlande hou ernstige veiligheidsbedreigings vir die Ooste in.
Intussen woed burgeroorloë in Jemen en Ethiopië voort terwyl burgeroorloë ook dreig in lande soos Mianmar, Venezuela, Haiti, Libië en verskeie ander lande in Afrika en die Midde-Ooste.
Globale veiligheidsbedreigings moenie oorskat word nie, maar om dit te onderskat sou ook naïef wees. Onsekere tye met meer konflik, oorlog en geweld is ‘n meer waarskynlike scenario vir die volgende paar jaar. In daardie opsig is Suid-Afrika nie noodwendig die slegste plek om te wees nie. Ons moet onsself egter voorberei vir groter onstabiliteit op ons kontinent en in verskeie ander wêrelddele.