6 April 2021
Motoriste word daaraan herinner om vanaand die vulstasie te besoek voordat April se brandstofpryse om middernag in werking tree.
Die departement van minerale hulpbronne en energie het vroeër aangekondig dat 95-oktaan petrol met R1 per liter gaan styg. 93-oktaan petrol gaan 93-sent per liter duurder kos.
Diesel se prys per liter styg met tussen 63- en 65-sent per liter en paraffien sal voortaan 35-sent per liter duurder kos.
Die styging word toegeskryf aan die olieprys asook die rand, dollar wisselkoers. Die brandstofheffings kom tree ook egter die maand in werking.
Die jongste styging in die brandstofprys beteken dat 95-oktaan petrol ‘n motoris nou sowat R17.32 per liter uit die sak gaan jaag. 93-oktaan petrol kos nou R17.10 vir een liter.
Diesel kos voortaan net-net minder as R15 per liter.
Die Outomobiel Assosiasie, oftewel AA se woordvoerder Layton Beard sê dié verhoging is slegte nuus vir motoriste en gaan hul sak swaar tref.
Hy sê dit beteken ook dat die pryse van enige produkte, wat per vragmotor vervoer moet word, waarskynlik duurder sal kos.