3 Mei 2024
Inskrywings vir die gewilde Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings stroom steeds in en kunstenaars, liedjieskrywers en vervaardigers word uitgenooi om nog in te skryf tot en met middernag op 13 Mei 2024.
Die Uitvoerende Voorsitter van Pretoria FM en trustee van die Aitsa Trust, Willie Spies, sê die Aitsa Toekennings het in die verlede groot belangstelling uitgelok en ons bou voort op die suksesresep van die vorige jare. Ons hoop om vanjaar weer die rekords te oortref wat inskrywings betref.
Vanjaar is ‘n splinternuwe kategorie geskep vir “Ballade van die Jaar”. Afrikaanse ballades is ‘n unieke maar baie gewilde genre van Afrikaanse musiek en spesifiek ook vir Pretoria FM. Hierdie musiek verteenwoordig ‘n baie besondere kunsvorm wat musiek met Afrikaanse digkuns kombineer. Die nalatenskap van legendes soos Koos du Plessis, Laurika Rauch, Jannie du Toit en vele ander leef voort in hierdie genre. Dikwels haal musiek in hierdie genre nie die meeste stromings of luistersyfers nie, maar die besondere gehalte daarvan noodsaak behoorlike erkenning by wyse van ‘n spesiale Aitsa-kategorie.
Hy sê verder dat hul ervaring is dat die kategorie “Kontemporêre Liedjie van die Jaar” gewoonlik baie inskrywings lok vanuit uiteenlopende genres wat dikwels moeilik vergelykbaar is met mekaar, wat daartoe kan lei dat unieke genres nie tot hul reg kom nie.
Ons ervaring uit terugvoer was egter dat verskeie platemaatskappye en kunstenaars steeds die behoefte voel om in ‘n algemene “kontemporêre liedjie van die jaar” kategorie in te skryf en daarom is hierdie kategorie weer ingestel sodat inskrywings spesifiek in hierdie kategorie ook ingestuur kan word.
Ons is opgewonde om bekend te maak dat die Aitsas 2024 hierdie jaar dus beide genres sal akkommodeer deur inskrywings vir Ballade van die Jaar, asook Kontemporêre Liedjie van die Jaar te verwelkom.
Die nodige aanpassing is aan die inskrywingsvorm gemaak en is beskikbaar op www.pretoriafm.co.za.
Die Aitsa Toekenningsgeleentheid vind hierdie jaar plaas op 18 September 2024 by die 3Ci Ouditorium en die publiek word ook uitgenooi om die geleentheid by te woon. Kaartjies is reeds beskikbaar op www.iTickets.co.za. ‘n Beperkte hoeveelheid (500) kaartjies is vir ‘n verminderde bedrag van R150 per kaartjie beskikbaar en hierdie kaartjies is reeds byna uitverkoop. Om teleurstelling te voorkom, moet die spesiale tarief kaartjies gou-gou aangeskaf word voor dit uitverkoop. Die normale kaartjie tarief wat ten opsigte van die oorblywende kaartjies gaan geld is R250.
Ons is opgewonde oor die toekoms van Afrikaanse musiek en daarmee saam die uitbreiding van kategorieë om die room in die Afrikaanse musiekbedryf op grond van hul uitmuntende prestasies, te beloon.