29 Desember 2021
Die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (RASA) het ook ‘n beroep op die regering gedoen om die aandklokreël op te hef.
Dit nadat die DA en verskeie ander rolspelers ‘n soortgelyke versoek gerig het. RASA se hoof, Wendy Alberts sê die aanvanklike rede vir die inperkingsregulasies was om die gesondheidsektor genoegsaam voor te berei vir die Covid-19-pandemie.
Tans geld die aandklokreël van middernag tot 04:00.
Alberts meen daar is geen bewyse dat die aandklokreël die verspreiding van die virus verhoed nie. Sy sê wat hulle wel verseker weet is dat daar tans geen skerp styging in hospitalisasies is weens die virus nie en dat daar – volgens haar – nie ‘n krisis in hospitale is weens die virus nie.
LEES OOK: “HEF DIE AANDKLOKREËL OP,” VRA DIE DA
“Die ekonomie en die restaurantbedryf kry uiters swaar weens die inperkingsregulasies en duisende restaurante moes reeds hulle deure sluit, terwyl talle mense hulle werke verloor het,” sê Alberts.
Intussen het die Kaapstadse-metro ook sy naam gevoeg by dié belanghebbendes wat vra dat die aandkloreël opgehef moet word.
Die metro se burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese ontwikkelling, James Vos sê hul kan nie toelaat dat die ekonomie, spesifiek die gasvryheids- en toerismebedrywe verliese ly gedurende die feesseisoen nie.
Vos meen klein besighede en ander maatskappye word weens die aandklokreël gedwing om vroeër toe te maak sodat personeellede by die huis kan kom.
Volgens hom lei dit daartoe dat waardevolle handelstyd verlore gaan. “Met ‘n werkloosheidsyfer van 46,6% kán die land nié enige verdere werksverliese bekostig nie,” sê Vos.