8 Februarie 2022
Die departement van bosbou, visserye en omgewingsake sê renosterstropery in Suid-Afrika het sedert 2019 met 24% afgeneem.
Volgens die statistiek wat vir 2021 uitgereik is, is daar landswyd 451 renosters in privaat- sowel as nasionale parke gestroop.
Die minister, Barbara Creecy sê 327 is op staatsreservate gestroop en 124 op privaatgrond. Sy sê hoewel daar ‘n afname is in vergelyking met 2019 (voor Covid-19) is daar ‘n toename in die aantal renosters wat op private plase gestroop word.
209 van die 451 renosters wat vir hulle horings gestroop is, is by Suid-Afrikaanse Nasionale Reservate én volgens Creecy is al 209 by die Kruger Nasionale Wildtuin gestroop.
Volgens die departement het verskerpte teen-stropingsveldtogte en meer vervolgings daartoe gelei dat minder diere in die Krugerwiltuin gestroop word, maar dat stropers en sindikate nou na ander parke en reservate uitwyk.