7 Februarie 2023
Renosterstropery het verlede jaar in die meeste provinsies van Suid-Afrika afgeneem, maar in KwaZulu-Natal het dit egter toegeneem.
Volgens die minister van visserye, bosbou en omgewingsake, Barbara Creecy, is 448 renosters in Suid-Afrika verlede jaar gestroop.
244 van dié renosters is in KwaZulu-Natal gestroop – 142 meer as wat in 2021 in dié provinsie gestroop is.
In 2021 is daar 445 renosters in Suid-Afrika gestroop terwyl dié getal in 2020 op 394 renosters gestaan het.
Dit wil voorkom asof Suid-Afrika se grootste nasionale park, die Kruger Nasionale Park die stryd teen renosterstropery wen, nadat ‘n afname hier getoon is. Van die 448 wat in 2022 gestroop is, was 124 renosters in die Kruger Wildtuin. Dit is ‘n afname van 40% teenoor 2021.
In KwaZulu-Natal lyk die prentjie egter minder rooskleurig. Die meeste renosters in hierdie provinsie is in die Hluhluwe iMfolozi park gestroop.