29 Mei 2024
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sê die spesiale stemmery van vroeër die week het goed afgeloop en meer as 937 000 kiesers het hulle kruisies by nagenoeg 23 000 stempunte getrek.
Die hoofkiesbeampte, Sy Mamabolo, sê die getal is baie hoër as met die vorige verkiesings.
Hy sê hulle is egter bekommerd oor gevalle van onwettige gedrag teenoor kiesbeamptes by stempunte en het ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om amptenare toe te laat om hulle verantwoordelikhede onbelemmerd na te kom.
Intussen het sommige blinde en visueel-gestremde mense wat by die Johannesburgse Samelewing vir die Blindes woon, gisteroggend vertragings tydens hulle stemproses ervaar.
Die groep het sedert 09:00 gisteroggend gewag om te stem en gekla dat daar nie hulp was van die OVK se agente in die stemproses nie.
Die groep sê dit is nie die eerste keer dat OVK agente nie opdaag nie en het die kommissie daarvan beskuldig dat hulle mense wat met gestremdhede lewe verwaarloos.