8 Desember 2023
‘n Boksburgse vrou wat daaraan skuldig bevind is dat sy R537-miljoen by haar werkgewer gesteel het, is effektief tot vyftig jaar agter tralies gevonnis.
Die Johannesburgse handelsmisdaadhof – wat in Palm Ridge sit – het Hildegard Steenkamp gevonnis nadat sy skuldig bevind is op 336 aanklagte wat verband hou met die diefstal by Medtronic – waar sy as rekenmeester gewerk het.
Steenkamp het die diefstal probeer toesmeer deur bedrieglike BTW-eise van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te maak.
Die misdade het tussen 2004 en 2016 plaasgevind.
Tydens vonnisoplegging het die voorsittende beampte, Phillip Venter gesê dit is verbysterend om te probeer begryp hoe een werknemer soveel geld by haar werkgewer kon steel. Volgens hom was Steenkamp ’n dobbelaar, wat tot R67-miljoen by slegs een casino uitgedobbel het.
Venter het ook gesê dat Steenkamp deurentyd ‘n oneerlike getuie was, wat leuens versprei het in ‘n poging om die hof te mislei.
Foto – eNCA ( Hloni Mtimkulu)