Hoofstuk 18: 24 Augustus 2023
In Mei 2004 het OKOSA die stasie van redes voorsien vir hulle weiering van die vierjaarlisensieaansoek in September 2003 en die stasie gelas om binne 30 dae daarna sy uitsaaiaktiwiteite te staak.
Dit sou wees op 23 Junie 2004.
Die opdrag vanaf OKOSA om ons uitsendings te staak het egter die sneller geraak vir ‘n nuwe hoofstuk en aanslag in ons regstryd.
Ons het ‘n dringende hofaansoek geloods vir verlof om uit te saai hangende die uitslag van die appèl wat hierbo bespreek is.
Die Geleerde Regter was ontevrede met die bewoording van die bedes en het die aansoek van die hand gewys.
Daarna het ons opnuut ‘n dringende aansoek geloods vir verlof om uit te saai hangende die finale beregting van die aansoek vir ‘n vierjaarlisensie. Dit sou wees hangende enige prosesse, hangende finale beregting tot by die Konstitusionele Hof.
Die aansoek het op 30 Junie 2004 gedien voor Regter Ferdi Preller in die Dringende Hof in Pretoria. Ten spyte van heftige teenstand is die bevel toegestaan.
Ek meen dis van pas om te noem dat ons op ‘n stadium tydens die hofstryd na die luukse kantore van OKOSA gereis het, op sterkte van ‘n afspraak, om mondelinge vertoë aan ‘n paneel van OKOSA te rig ter ondersteuning van die Stasie se saak. Ek kan nie onthou of ons uitgenooi is en of ons daarna gevra het nie. Ons groep het bestaan uit Ds Mossie van den Berg, Jaap Diedericks, Pieter de Kok en ekself.
Jaap Diedericks het ‘n uitstaande en baie indrukwekkende betoog aangebied maar lede van die paneel was ons uit die staanspoor vyandiggesind en het op ‘n onbeskofte manier gesit en lag en ginnegaap terwyl ons gepraat het. Daar is ook sarkastiese en neerhalende opmerkings gemaak.
Dit spreek vanself dat ons besoek aan OKOSA geen vrugte afgewerp het nie. ‘n Tyd voor die “veldslag” vereer is met ‘n aanstelling op die regbank. Ek moes toe my praktyk opsê en my vestig in die Regterskamers van die Hooggeregshof, waar ek toe vir vyftien jaar gedien het.
Ek kon egter nog steeds die Stasie se Repliserende Verlaring, in antwoord op OKOSA se Opponerende Eedsverklarings, opstel en afgee ten einde die hofstukke vir die “veldslag” te finaliseer en te sluit. Na die siekte en afsterwe van Mnr Mike van der Berg het Mnr Johan Kriek die prokureur van die Stasie geraak.
Die saak het aanvanklik skeefgeloop in die Hooggeregshof voor Regter Johan Smit, wie later, na sy aftrede ‘n direkteur van die Stasie sou raak en ‘n bepalende rol in die ontwikkeling van die Stasie sou vervul.
As my plaasvervanger in die regspan het die Stasie ‘n briljante en ervare senior advokaat, Gerrit Grobler SC, aangestel om die appèl teen die mislukte Hooggeregshofaansoek te behartig. Soos blyk uit die gunstige uitspraak, het hy hom uitstekend van sy taak gekwyt.
Meneer Grobler verdien erkenning vir sy bydrae tot die stasie se sukses, en uiteindelike oorlewing. Ek moet bieg dat vriende en kollegas spottenderwys gesê het dat die Stasie die saak gewen het omdat daar uiteindelik ‘n ordentlike advokaat aan die stuur was! Moontlik is daar veel te sê vir hierdie teorie.
So het die titaniese, maar eerlike en regverdige, stryd van Radio Pretoria om op die lug te bly op ‘n heuglike en suksesvolle noot tot ‘n einde gekom.
Dit was die wil van die Goeie Vader. Mag Hy deur Sy genade hierdie baie spesiale radiostasie en sy mense nog vir baie jare seën en beskerm, en gee dat die Stasie van krag tot krag sal gaan tot eer van Sy naam en tot voordeel van sy luisteraars, en die mense van hierdie pragtige land waarin ons woon.
