30 Maart 2022
Suid-Afrikaners het minder as 48 uur oor om kommentaar te lewer op die nuwe voorgestelde Covid-19-regulasies, wat gisteraand deur die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini Zuma in die staatskoerant gepubliseer is.
Die kabinet het na afloop van ‘n noodvergadering besluit om die proses te versnel om die nasionale ramptoestand in die land te beëindig.
Dit sal na alle waarskynlikheid op 5 April beëindig word.
Daar is voorgestel dat die regulasies vir nie langer as 30 dae moet geld nadat die ramptoestand opgehef is nie.
Die vakbond Solidariteit het intussen in reaksie op die aankondiging gesê die regering probeer nou oorhaastig regulasies af te handel en beperk openbare kommentaar, want hulle weet die ramptoestand is “irrasioneel en onregmatig.”
Solidariteit sê hy het ‘n skrywe van die regering ontvang waarin gevra is dat hy nie voortgaan met sy dringende hofaansoek om die ramptoestand te beëindig nie.
Die vakbond gaan egter voort met die saak op die 5de April, en sê hy sal die irrasionaliteit van die nuwe gesondheidsregulasies ook uitdaag.