ActionSA sê hy het doelbewus ‘n jaar gelede die besluit geneem om nie deel te word van die regering van nasionale eenheid (RNE) nie omdat die partye binne die RNE – volgens ActionSA deel van ondermeer staatskaping was.
Die ActionSA-LP, Athol Trollip, het vanoggend ‘n mediakonferensie gehou om dié party se terugvoer te gee oor hoe hulle dink die RNE die afgelope jaar gevaar het.
Volgens Trollip glo ActionSA steeds dat dit die beste besluit vir die party was om eerder deel van die opposisie te wees om sodoende die RNE op sy tone te hou.
Om dit reg te kry het ActionSA ‘n sogenaamde RNE prestasie-meter ontwikkel met die doel om die RNE se vordering te volg en hulle verantwoordbaar te hou vir enige besluite wat geneem word. Trollip sê hulle sal bevoorbeeld antwoorde in die parlement en data deur Statistiek Suid-Afrika gebruik om die vordering dop te hou.
Volgens hom sal die RNE prestasie-meter nie net voordelig wees vir die parlementslede nie, maar ook die publiek sal dit as ‘n maatstaf kan gebruik om te sien of die RNE misluk of slaag.
Trollip sê die RNE sal op ses punte beoordeel word. Die sluit in: Etiese leierskap en openbare dienste, die ekonomie, infrastruktuur, basiese dienslewering, onderrig en misdaad.
Hieronder is ActionSA se RNE meter en hoe hulle “punte” aan die regering sal toeken.
- Etiese leierskap en openbare dienste – F
- Ekonomie – F
- Infrastruktuur – D
- Basiese dienslewering – F
- Onderrig – E
- Misdaad – F
Algehele punte aan die RNE (volgens ActionSA) – E