Nuuskommentaar: 21 September 2022
Deur: Mari Oosthuizen
Die adjunk-president, David Mabuza sê die regering is nog nié op ‘n plek waar hy privatisering sal oorweeg as ‘n oplossing vir Eskom se probleme nie.
Hy het verlede week tydens ‘n vraag-en-antwoord-sessie in die Nasionale Vergadering gesê dat dit ongegrond sal wees om aan te neem dat die probleme by Eskom die kragvoorsiener in die rigting van privatisering stuur.
Hy sê Eskom is in ‘n gevorderde stadium van ontbondeling, wat volgens hom, die antwoord op Eskom se talle probleme is. Mabuza hou vol dat privatisering nie die antwoord is nie.
Ook die minister van arbeid en indiensneming, Thulas Nxesi het in Julie vanjaar gesê dat hy enige planne sal teenstaan wat daarop gemik is om Eskom en enige ander openbare ondernemings te privatiseer.
Volgens hom sal privatisering nadelig wees vir die land se armste inwoners. Hy meen as dienste soos krag geprivatiseer word sal dit uiters duur wees en sal die armoediges dit nie kan bekostig nie.
Die werklikheid meneer Mabuza en minister Nxesi is egter dat privatisering reeds begin het, hoewel nie amptelik nie neem maatskappye en Suid-Afrikaners die talle probleme van die land in hul eie hande en vind ook self oplossings.
Eskom se finansiële sake benadeel die land se ekonomie met sy skuld wat nagenoeg R350-miljard beloop.
Die regering beloof al jare om instandhouding by Eskom te verbeter en meen die opdeling van die kragvoorsiener in verskillende afdelings sal die oplossing bied. Maar is dit werklik die antwoord?
Duisende Suid-Afrikaners wat reeds begin het om hulle huise na sonkrag oor te skakel sal nie met Mabuza en Nxesi saamstem dat privatisering nié die antwoord is nie. Suid-Afrikaners besef dat hulle self plan sal moet maak, want om te wag vir die regering se oplossings is soos om vir die 365 dae van die jaar vir Kersfees te wag.
Dit is egter nie net kragopwekking wat op huishoudelike vlak geprivatiseer word nie. Ook polisiëring, gesondheid, onderwys en basiese dienslewering is alreeds onderhewig aan privatisering.
Buurtwagte en veiligheidsmaatskappye het in duisende woonbuurte die antwoord geword op die stryd teen misdaad. Mens lees dikwels van ‘n buurtwaglid in sy patrollievoertuig wat daarin kon slaag om ‘n vermeende huisrower vas te trek. En, ry maar verby enige huis in groot woonbuurte en ‘n naambord van ‘n privaat veiligheidsmaatskappy is waarskynlik op die heining vasgemaak.
In die geval van gesondheid is ‘n goeie mediesefonds heel moontlik die belangrikste uitgawe wat deel van jou begroting moet vorm. Dit het verlede week tydens ‘n parlementêre vraag-en-antwoordsessie aan die lig gekom dat meer as 175 000 prosedures by staatshospitale agterstallig is.
Volgens die minister van gesondheid, dr Joe Phaahla, is die grootste agterstand in die Wes-Kaap – met meer as 77 000 prosedures agterstallig – gevolg deur Limpopo met meer as 45 000 prosedures agterstallig.
Dan sal jy ook gereeld inwoners op sypaadjies en in parkies sien met hulle eie, persoonlike grassnyers om die lang gras te sny. Maatskappye en individue het self begin om slaggate te vul.
Dit is wonderlik om te sien hoe gemeenskappe saamstaan om lewensomstandighede te verbeter, maar terselfde tyd is dit betreuenswaardig. Nie net omdat Suid-Afrikaners belasting vir die dienste betaal nie, maar ook omdat dit die land se armstes is wat aan die kortste entjie trek.
So, meneer Mabuza en minister Nxesi selfdoen en privatisering het lankal reeds gebeur.
Foto: AfriForum