7 Februarie 2023
Akademici, die Organisasie teen Belastingmisbruik en AgriSA meen ‘n ramptoestand oor die land se kragkrisis sal nié die regte oplossing wees nie.
‘n Mediakonferensie oor die noodsaaklikheid van ‘n ramptoestand vir die kragkrisis is vanoggend in Pretoria gehou.

Volgens die hoof van die Noordwes Universiteit se Afrikasentrum vir rampstudies, prof. Dewald van Niekerk is dit eers belangrik om te verstaan wat as ‘n ramp beskou kan word, voordat ‘n ramptoestand afgekondig word. Hy meen daar bestaan nie noodwendig natuurlike ramptoestande nie, en dat byna elke ramp deur mense en hulle besluite veroorsaak is.
Van Niekerk meen dit is belangrik om nie ramptoestande af te kondig vir alledaagse probleme nie. Hy meen as ‘n ramptoestand vir elke krisis in die land afgekondig word, sál dit ‘n presedent skep.
Advokaat Stefanie Fick, die uitvoerende direkteur van die aanspreeklikheidsafdeling by Outa sê ‘n ramptoestand sal geen verskil maak as die minister, wat verantwoordelik vir Eskom is, nie noodwendig bereid is om private kragopwekking ‘n kans te gee nie.
Volgens haar sal dit baie belangrik vir die regering te wees om te verduidelik watter verskil ‘n ramptoestand aan die situasie sal maak voordat dit afgekondig word. Sy sê talle dele van die land is in ‘n krisis gedompel, en meen daar moet ander oplossings vir die kragkrisis wees.
Fick het ander paneellede se siening beaam dat duur lesse tydens die Covid-19-pandemie geleer is en dat daardie ramptoestand ‘n geleentheid vir mense gegee het om geld in hulle eie sakke te steek. “Honderde items van persoonlike beskermde toerusting gaar stof op al is miljoene rand daarvoor betaal.
Prof. Kedibone Phago van die NWU se skool vir regeringstudies sê daar is geen politieke wil om die kragkrisis op te los nie. Volgens hom moet a-politiese figure ingespan word om openbare ondernemings reg te ruk. Hy sê die probleem is dat politici nie noodwendig dieselfde probleme ervaar as waarmee miljoene Suid-Afrikaners te doen kry nie.
Christo van der Rheede, die uitvoerende hoof van AgriSA het weer benadruk dat beurtkrag ‘n negatiewe invloed op boere en voedselproduksie het. Hy het saamgestem met paneellede dat daar nie ‘n politieke wil bestaan om die probleem hok te slaan nie.
Hy sê voedselsekerheid is in gedrang weens beurtkrag. “As voedsel te duur raak, dán is die land in die moeilikheid.”