Nuuskommentaar: 14 Februarie 2023
Deur: Jaco Kleynhans
Verlede Maandag se verwoestende aardbewing wat die suide van Turkye en die noordweste van Sirië getref het, het reeds tot die dood van meer as 35 000 mense gelei met nog duisende mense wat vermis word. Dit is duidelik die ergste ramp in meer as ʼn eeu wat die gebied getref het, met die dodetal wat nou reeds die vorige mees verwoestende aardbewing van Desember 1939, toe 33 000 mense dood is, verbygesteek het.
Net meer as ʼn week ná die aardbewing is woede egter besig om in Turkye op te bou met ernstige vrae oor die toepassing van bouregulasies die afgelope twee dekades, die regering se reddingsoperasies in die eerste ure na die ramp en die mate waartoe korrupsie in die konstruksiesektor en die regering se betrokkenheid by hierdie korrupsie tot die hoë dodetal bygedra het.
Ernstige en verwoestende aardbewings is nie ongewoon in Turkye nie. Die land is geleë by die kruispunt waar drie van die tektoniese plate waaruit die aardkors bestaan, by mekaar aansluit. Die gevolg hiervan is ernstige aardbewings wat van tyd tot tyd regoor Turkye voorkom.
In 1999 is meer as 17 000 mense dood toe ʼn aardbewing die noordwestelike stad Izmit, net oos van Istanboel, getref het. Die aardbewing in 1999 het een van die mees geïndustrialiseerde dele van Turkye getref en het duisende geboue, insluitende die hoofkantoor van die Turkse vloot, verwoes.
Die aardbewing van 1999 het egter ook politieke gevolge gehad. Die koalisieregering wat in 1999 in Turkye aan bewind was, het swaar deurgeloop onder kritiek oor sy hantering van die reddingsoperasie ná die aardbewing, maar ook oor die regering se onvermoë om bouregulasies toe te pas. Die huidige Turkse president, Recep Erdogan, en sy Regs- en Ontwikkelingsparty het as ʼn direkte gevolg van die 1999-aardbewing in 2002 die verkiesing gewen.
Die afgelope twee dekades het Erdogan en sy regering egter talle van dieselfde foute as sy voorgangers begaan. Hoewel streng nuwe bouregulasies en wette deurgevoer is wat die gevolge van aardbewings moes beperk en tot beter reddingsoperasies ná aardbewings moes lei, het ʼn ander werklikheid op grondvlak afgespeel.
Sedert 2011 het meer as vier miljoen vlugtelinge uit Sirië na Turkye gevlug en die meeste het hulle in die provinsie Gaziantep gevestig. Die provinsie se hoofstad, met dieselfde naam, het dus ʼn bevolkingsontploffing ervaar wat deur verstedeliking uit arm, landelike dele van die suidooste van Turkye vererger is.
Daar is dus die afgelope paar jaar teen ʼn verbysterende tempo groot woonstelgeboue in die gebied opgerig. Die kombinasie van regeringskorrupsie, ʼn konstruksiemafia met noue bande met die Erdogan-regering en burokrate wat om verskeie redes, maar veral tot voordeel van hulle eie beursies, weggekyk het wanneer bouregulasies nagekom moes word, het daartoe bygedra dat duisende geboue opgerig is wat nie ʼn hewige aardbewing sou kon weerstaan nie.
In Mei vanjaar sal kiesers in Turkye na die stembus gaan om te besluit of Erdogan tot nog ‘n termyn verkies moet word. Oor baie jare het verskeie rampe soos aardbewings, vloede, tsunami’s, pandemies en oorloë tot politieke verandering regoor die wêreld gelei.
Selfs mensgemaakte rampe, soos Suid-Afrika se elektrisiteitskrisis, lei dikwels tot politieke veranderinge, hetsy revolusionêre of bloot net sinvolle hervormings. Die Turke verdien na hierdie aardbewing, net soos Suid-Afrika, ‘n beter regering. Die vraag is of genoeg kiesers dit sal insien.