11 Junie 2024
President Cyril Ramaphosa het aangekondig dat hy Solidariteit se hofaansoek teen die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gaan teen staan.
Solidariteit se adjunkbestuurshoof van regsake, advokaat Anton van der Bijl sê hul het ‘n soortgelyke kennisgewing van die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla ontvang. Hy meen Ramaphosa het sy hand met die NGV oorspeel.
“Talle politieke partye het aangedui dat die skrapping, of minstens ingrypende wysigings aan die NGV, ʼn voorwaarde vir deelname aan koalisies en ʼn regering van nasionale eenheid is.”
Solidariteit het op 24 Mei sy hofstukke aan die regering beteken en het ook op ʼn NGV-krisisberaad verskeie politieke partye en drukgroepe versoek om mekaar se optrede teen die NGV-wet, hetsy deur litigasie, politieke prosesse of burgerlike druk, te steun.
Van der Bijl sê die vakbond doen nou ‘n beroep op partye wat by die Regering van Nasionale Eenheid-gesprekke betrokke is om die NGV teen te staan en druk op Ramaphosa uit te oefen om nie met die NGV voort te gaan nie.
Solidariteit en talle politieke partye en drukgroepe glo die NGV is ongrondwetlik sowel as onuitvoerbaar en onbekostigbaar.