17 Julie 2024
Belastingbetalers sal tussen R6-miljoen- en R14-miljoen vir president Cyril Ramaphosa se parlementsopeningsrede opdok.
Die sekretaris van die parlement, Xolile George, het dit vandag bevestig toe hy saam met die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, en die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Refilwe Mtsweni-Tsipane ’n mediakonferensie by die parlement gehou het oor die wetgewer se gereedheid vir die openingsrede môreaand.
Volgens George word verskeie kostefaktore in ag geneem.
Hy sê hulle het R8,4-miljoen vir die staatsrede in Februarie begroot, terwyl die werklike uitgawes minder of effens meer kan wees.
Volgens George is dit egter die bedrag waarvoor hulle tans voorsiening maak, ingevolge die skaal en aard van die geleentheid.