24 Junie 2024
President Cyril Ramaphosa sê alles moet gedoen word om te verseker dat die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) getrou bly aan sy gees van samewerking.
Hy het in sy weeklikse nuusbrief geskryf dat die RNE nie behep kan wees met poste, ‘n stryery oor aanstellings of bakleiery onder partye nie.
Hy meen die vorming van ‘n Regering van Nasionale Eenheid se sukses sal gemeet word aan hoeveel die partye fokus op hoe daar geregeer moet word, eerder as wie moet regeer.
Volgens hom het die betrokke partye in die RNE ‘n lys van prioriteite saamgestel. Hiervolgens is ekonomiese ontwikkeling en werkskepping bo-aan die lys van kwessies wat dringend aandag moet geniet. “Ons moet van Suid-Afrika ‘n land maak waarin mense wil belê.”